Corné & Ihandi
26 Maart 2022
Kliek eers hier
Kies julle rolle: Gesels oor watter rolle julle in die huwelik gaan inneem en maak seker dat altwee tevrede is met die ander se verwagtinge. Besluit of altwee gaan werk, wie na die kinders gaan omsien (in die toekoms), wie verantwoordelik gaan wees vir die geldsake, en so aan.
Neem verantwoordelikheid: Dit is jou keuse om te trou, en jy kies die persoon saam met wie jy die res van jou lewe wil deurbring. Daarom moet jy verantwoordelikheid neem vir die sukses van julle huwelik – net soos jy nie volle krediet kan neem vir alles wat regloop nie, kan jy ook nie die ander persoon blameer vir alles wat verkeerd loop nie.
Wees gelukkig met jouself: Jy kan slegs ‘n gelukkige getroude persoon wees indien jy ‘n gelukkige enkel-lopende was. Voor jy iemand anders kan gelukkig maak, moet jy eers jouself leerken en jouself leer liefhê.
Kommunikeer: Dit is ‘n woord wat baie heen en weer geslinger word, maar tog is daar min paartjies wat werklik verstaan wat dit beteken om te kommunikeer. Om effektief te kommunikeer, moet jy jou eie gedagtes, motiewe en gevoelens verstaan en dit op ‘n eerlike wyse met jou eggenoot kan deel. Verder moet jy ook na jou eggenoot se gevoelens luister wanneer jy verkeerd is en verantwoordelikheid neem vir dit wat jy gedoen het.
Maak tyd vir mekaar: Almal het aandag en liefde nodig om in die huwelik te floreer. Moet dus nie aanvaar dat jou eggenoot bloot gelukkig is om ‘n huis met jou te deel nie. Maak seker julle gee vir mekaar genoeg aandag en bring kwaliteit tyd as ‘n paartjie deur, selfs al is dit so eenvoudig soos om saam te kook.
‘n Tyd om stil te bly: Jy behoort jou eggenoot goed genoeg te ken om te weet wanneer dit die moeite werd is om oor iets te praat of stry, en wanneer hy/sy tyd nodig het om af te koel. Deur die persoon spasie te gee, verminder jy die kanse dat daar dinge gesê word wat kon gebly het.
Behou jou onafhanklikheid: So belangrik soos wat dit is om saam tyd deur te bring, net so belangrik is dit om ‘n onafhanklike sosiale lewe te geniet. Bring tyd saam met jou vriende deur of kry ‘n stokperdjie wat jy op jou eie kan beoefen, om so meer waardering vir julle “saam tyd” te kry.
Lag ‘n slag: Maak ‘n punt daarvan om mekaar te laat lag en die humoristiese kant van die lewe te waardeer. Wanneer dit lyk of julle gaan stry kry, probeer ontspan en die ligte sy van die situasie insien!
Onthou die klein dingetjies: Baie paartjies raak na ‘n ruk so gemaklik met mekaar, dat hulle vergeet om mekaar goedgesind te wees. Dit is egter die klein dingetjies wat ‘n mens geliefd laat voel, so probeer om in die gewoonte te bly en steeds op klein maniere jou liefde aan jou eggenoot te bewys.
Wees soms verkeerd: Geluk is belangriker as om altyd reg te wees. Selfs al voel jy dat jou eggenoot miskien verkeerd is, is dit soms nodig om die mindere te wees en om verskoning te vra. Op die manier wys jy ook vir jou eggenoot dat hy/sy vir jou belangriker is as jou eie trots.